Vonkelvrou

Print
26
Oct

DANKBAARHEID

EEN VAN DIE GEHEIME VAN ‘N GELUKKIGE LEWE IS DANKBAARHEID.

Filippense 4
 

“4 Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! 5 Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. 6 Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.“

 

Een van die geheime van ‘n gelukkige lewe is dankbaarheid. As ek en jy dit kan reg kry om met dankbaarheid te leef, verander dit die wêreld vir ons. Begin ons verby die dinge kyk wat die lewe vir ons moeilik maak en sien ons die seën wat ons het raak. Kyk ons verby die donker wolke en begin ons die silwer randjie raaksien. Dankbaarheid word ‘n realiteit in ons lewe as ons besef dat alles wat ons het is ‘n geskenk van God. Om te kan glo – ‘n geskenk, om te kan werk – ‘n geskenk, om ‘n familie te hê – ‘n geskenk. So kan ons aangaan en kan jy nog byvoeg. Om ons dankbaarheid lewendig te hou moet ons, onsself voortdurend herinner aan alles wat ons voor dankbaar kan wees.

Dankbaarheid is egter nie net ‘n emosie nie, maar gaan altyd oor tot aksie. Dankbaarheid inspireer my om my geloof uit te leef, om saam met ander gelowiges Sondae God te loof en te dank vir Sy genade, lief te wees vir God se kinders, iets van die baie wat ek ontvang, terug te gee met my tiende, en elke dag met vreugde te leef!