Luister Aanlyn

Luister Lichvaal Stereo aanlyn enige plek in die wereld van Duitsland tot Dubai!

Luister Nou Epos na Ateljee

Mark Aanwysers

Vonkelvrou

Marlette, die Vonkelvrou van Lichvaal Stereo nooi jou vriendelik om elke weeks oggend om 9 uur by haar aan te sluit vir 'n verskeidenheid onderwerpe. Maandae raak ons stil en kry kos vir die siel, Dinsdae bak en brou ons, Woensdae leef ons gesond, Donderdae praat ons oor alles en nog wat en Vrydae kuier ons by ons kontrei se mense; oud en jonk. Kom lag, leer, leef en "vonkel" saam my, Marlette, in Vonkelvrou.

Print
10
May

MOEDERSDAG

on Friday, 10 May 2013 20:16.

My ateljeegas was Agust Schnepel en ons het onder andere gesels oor Moedersdag eerskomende Sondag.  Ek het weereens besef hoe groot voorreg dit is om 'n moeder te he en ook om 'n mamma te wees. 

My moedertjie het lankal verhuis en die verlange raak nie minder nie.  Soms wens ek dat daar nog een geleentheid was waar ek vir haar kon se ek het haar baie lief en dankie vir al haar liefde.  Moenie nalaat om vir jou ma te se sy is kosbaar en jy waardeer haar nie.  Net so moet mammas nie nalaat om hulle liefde aan hulle kinders te bewys en uit te spreek nie.

Geen prys kan aan liefde gekoppel word nie.  Dalk is daar 'n verwydering tussen jou en jou moeder, herstel dit solank jy nog kan.  Gryp die geleentheid aan om die rede vir die verwydering uit die weg te ruim, of dit te oorbrug en wees lief vir mekaar.

Mooi bly en baie seen

ESTELLE

Print
08
May

HANTERING VAN TERMINAAL SIEK GELIEFDE

on Wednesday, 08 May 2013 17:25.

Wat staan jou te doen indien iemand na aan jou met 'n terminale siekte gediagnoseer word?  Wat van ouderdom?  Dis altyd baie moeilik as jy besef die dood van 'n geliefde is naby.

Maar wat kan jy doen en hoe moet jy dit hanteer? Bemagtig jouself met kennis oor die spesifieke siekte. Miskien sal jy voel jy wil vlug of teen die siekte in opstand kom,  dalk word jy heeltemal verlam gelaat met die gedagte aan die verlies van die geliefde. Erken teenoor jouself en die siek persoon  dat jy nie weet hoe om dit te hanteer nie. Dit is heeltemal verstaanbaar.

Dit is baie belangrik om steeds jou geliefde dieselfde te behandel as voor die diagnose.  Laat hom/haar toe om self besluite te neem en respekteer die besluite.  Wees versigtig om oorbeskermend te raak en onthou dat fisieke kontak baie belangrik is. Vra die siek persoon wat hy/sy wil he jy moet doen en gee hom/haar genoeg ruimte om onafhanklik te funksioneer indien dit moontlik is. Die bewys van agting en liefde bly ongetwyfeld baie belangrik. 

Kom ons maak dit ons keuse om mekaar lief te he en te waardeer ongeag omstandighede en moenie nalaat om die goeie te doen nie.

Kontak vr Dr Tessa van Wyk - 082 804 9886. 

Mooi bly

ESTELLE

Print
07
May

SMULLEKKER WINTERPOEDINGS

on Tuesday, 07 May 2013 15:53.

Een van die lekkerste lekkertes van winter is die heerlike, stroopsoet poedings waarin jy jou kan verlustig!  En moenie skuldig voel oor die ekstra soetigheidjie nie, dis 'n winterbederf soos min! Maar moenie vergeet dat SJOKOLADE elke happie nog lekker maak nie.  Wanneer jy hierdie resep een keer gemaak het, kan jy dit maar by jou lysie van gunsteling resepte voeg, want jy gaan dit weer maak, en weer en weer ...

SMULLEKKER SJOKOLADEPOEDING

 300 gr suiker, 280 gr koekmeel, 15 ml bakpoeier, 65 ml kakao, 2 ml sout, 50 gr botter, 250 ml melk, 5 ml vanielje/karamel geursel, knippie gemaalde naeltjies.

SOUS

 150 gr sagte bruinsuiker, 35 ml kakao, 630 ml goeie gehalte swart koffie

Verhit oond 180 g C. Smeer oondvaste bak met inhoudsmaat van 2,5 liter.  Sif die suiker, koekmeel, kakao, bakpoeier, sout en naetljies saam.  Smelt botter en voeg saam met melk en geursel by meelmengsel.  Meng goed en skep in gesmeerde bak.  Meng bruinsuiker en kakao en strooi bo-oor beslag.  Giet koffie oor. Bak 40 min of tot gaar.  GENIET!!

Kyk mooi na jouself en baie seen.

ESTELLE

 

 

Print
03
May

HELP MA!! EK IS VET

on Friday, 03 May 2013 13:59.

Ma, help!! Ek is vet!! Hierdie is 'n noodkreet wat elke mamma se hart moet aanraak.  Wanneer jou kind na jou toe kom met hierdie woorde, moet dit nie afmaak as net 'n gril of skoolgier nie.  Vir jou kind is dit 'n saak van die uiterste belang.

Het jy geweet  dat die gevolge van oorgewig kan lei tot minderwaardigheid, depressie, om geboelie te word by die skool en die uiterste gevolg: selfdood.  Wees sensitief en luister na jou kind.  Vra haar wat sy dink, hoe sien sy haarself.  Wat is die oplossing indien sy oorgewig is.  Word deel van haar leefwereld en beleef haar emosies saam met haar.  Werk saam aan 'n oplossing, gaan sien 'n dieetkundige, sielkundige, jou dokter, laat jou kind voel sy is nie alleen nie.  Wees prakties en hersien julle eetgewoontes.  Wend 'n daadwerklike poging aan om sommer die hele gesin se eetgewoontes te hersien en sny  ongesonde kosse uit.

Jy as ma moet ook versigting wees oor hoe jy jou koskwessies hanteer.  Jy is jou kind se rolmodel en wanneer jy 'n ongesonde grondslag le wat eetgewoontes betref, gaan sy dit ook doen.  Wees ook versigtig hoe jy na jou eie liggaam verwys.  Dis baie belangrik om jou kind se eiewaarde op te bou.

Wanneer jou kind se sy is vet en sy in in werklikheid ondergewig, is dit ook van uiterste belang om nie vir haar te lag of te se sy verbeel haar nie.  Sy het 'n werklike probleem wat aangespreek moet word.  Wanneer jou kind na elke ete badkamer toe gaan, of dalk elke kositem se inligtingsetiket fynkam vir die energiewaarde, kan sy dalk aan 'n eetversteuring ly.  Maak so gou as moontlik werk daarvan en kry die nodige professionele hulp.  Onthou elke situasie is uniek en moet op eie meriete hanteer word.  Die heel belangrikste is NEEM NOTISIE VAN JOU KIND!

Leef jou potensiaal as ouer uit, wees die beste mamma/pappa wat jy kan wees.  Met die hulp van BO kan jy dit doen.

Saai baie liefde en mag jy geseend wees.

ESTELLE

 

 

Print
02
May

WEES LIEF VIR JOU DIERE

on Thursday, 02 May 2013 15:08.

Het jy 'n troeteldier? Dit word nou winter, is jou troeteldier se slaapplek warm soos jou  eie wintersbed  met genoeg komberse en dalk sy eie jassie?  Jy het die verantwoordelikheid om na jou diere te kyk en te versorg soos jy versorg wil wees. 

Jou hond blaf dalk aanhoudend.  Dit kan 'n aanduiding van verveling wees.  Onthou dit is deel van 'n hond se geaardheid en samestelling om te blaf.  Dis sy manier van kommunikasie.   Dis onrealisties om van jou hond te verwag om nie te blaf nie.  "Hou op blaf" behoort 'n gehoorsaamheidsbevel te wees en moenie op jou hond skel nie.

Sorg ook dat jou diere genoeg oefening kry.  Wanneer jy besluit om 'n hondjie aan te skaf, maak gebruik van die internet of jou veearts om die regte soort hond te kry, een wat by jou en jou familie sal pas.

Wanneer jy skel en skree sal hy dit dalk as  aanmoediging beskou om nog meer te blaf. Onthou ook dat jou troeteldier genoeg speelgoed moet he om hom besig en gestimuleer te hou.  Ongelooide velle, beeshoewe en volstruissenings is items wat hy met veiligheid kan kou. Maak altyd seker dat niks in jou troeteldier se lugpyp kan vassit nie.  Dra sorg dat hy gebalanseerd eet en altyd vars drinkwater het.

Raak betrokke by ons eie Dierewelsyn, of dit aktief of finansieel is.  Maak 'n draai by die hokke, daar is regtig die oulikste honde en katjies wat 'n goeie huis met  baie liefde nodig het. Onthou, opregte liefde en aandag is die beste wat jy jou troeteldier kan gee.  Leer jou kinders  om verantwoordelik en sorgsaam te wees.  Iemand wat lief is vir diere, sal ook mooi werk met sy medemens.

Mooi bly

ESTELLE

 

Kontak Vonkelvrou

captcha
Reload