Vonkelvrou

Print
21
May

ONS HOU BASAAR!

Basaartyd is kooptyd en eettyd, tyd om te kuier en nuwe kennisse te ontmoet.  Dis ook tyd om jou trefferresepte op die tafels uit te stal en dit ook met ander te deel.  As jy dalk huiwerig is om jou lekkerste en gunsteling familieresep met ander te deel, dan is dit ook reg so.  Ek het al gehoor van mense wat hulle resepte deel, maar 'n geheime bestanddeel word verswyg, so die resultaat gaan nie dieselfde wees nie.  Resepte is soos kinders: jy sal hulle deel, maar in die kern bly hulle jou eie.

Hier is basaarresepte wat jy met 'n geruste hart kan voorberei en kan geniet, maar jy kan dit ook deel!  Lekker basaar hou.

MAKLIKE SJOKOLADE FUDGE

 300 ml Ideal melk, 950 ml suiker, 100 ml kakaopoeier, 75 ml gouestroop, 60 gr botter, 10 ml vanieljegeursel.  Jy kan ook rum- of karamelgeursel gebruik.

Gooi die Ideal melk, suiker, kakaopoeier en gouestroop in 'n kastol en verhit STADIG saam met 'n klein bietjie sout. Roer die mengsel tot al die suiker opgelos is. Laat stadig prut en roer af en toe tot mengsel sagtebalstadium bereik het, ('n druppel van die mengsel sal 'n sagte balletjie vorm wanneer jy dit in bietjie yskoue water drup). Dit neem ongeveer 'n uur.  Voeg die botter en geursel by, haal mengsel van stoof af en klop met houtlepel tot dik en romerig.  Gooi in gesmeerde pan en laat afkoel.  Sny in blokkies.

SUIWELVRYE SAGOPOEDING

 1 liter vanieljegeur sojamelk, 250 ml sago, 1,5 ml fyn neutmuskaat, 1 kaneelstokkie, 250 ml suiker, 75 ml suiwelvrye margarien, 5 ml vanieljegeursel, 4 groot eiers, geskei, 85 ml gladde appelkooskonfyt

Verhit die melk tot net voor kookpunt en voeg sago, speserye en 2 ml sout by.  Laat prut vir 10 minute oor lae hitte tot sago deurskynend is.  Voeg 125 ml van die suiker, die margarien en die geursel by en meng goed.  Haal van stoof af en roer eiergele by en meng goed. Gooi in gesmeerde bakskottel en skep konfyt bo-oor.  Klop eierwitte styf  en klits die orige 125 ml suiker stadig by.  Smeer bo-oor appelkooskonfyt en bak ongeveer 40 min of tot gestol en mooi ligbruin.

Heerlik vir die huis en die basaartafel.

Mooi bly en lekker bak.

ESTELLE