Vonkelvrou

Print
26
Apr

ORGAANSKENKING

Vandag se program het gehandel oor orgaanskenking.  My gaste was Elize van den Berg, Weefselkoordineerde van Viljoenskroon en Esme de Beer, die bestuurder van die Noord-Wes Dialisesentrum in Klerksdorp.  Die program gaan ek opsom soos volg:

LEWENSLANGE DROOM - deur Robert N. Test

Die dag sal kom dat my liggaam rus op 'n wit laken, netjies onder die vier hoeke van 'n matras ingevou, iewers in 'n hospitaal waar hulle druk besig is met lewendes en sterwendes.  Op een of ander tydstip sal 'n dokter vasstel dat my brein opgehou funksioneer en my lewe wesenlik tot 'n einde gekom het.

Moenie dan kunsmatige lewe met behulp van 'n masjien in my liggaam probeer inblaas nie.  En moenie daarvan praat as my sterfbed nie.  Laat dit eerder die BED VAN LEWE genoem word en laat my liggaam daaruit geneem word om ander te help om 'n voller lewe te lei.

Skenk my oe vir die man wat nog nooit 'n sonopkoms, 'n baba se gesiggie, of die liefde in 'n vrou se oe gesien het nie.  Gee my hart aan iemand wie se eie hart nog nooit iets anders as eindelose, pynvervulde dae veroorsaak het nie.  Gee my bloed aan die tiener wat uit sy motorwrak gelig is sodat hy kan leef om sy kleinkinders te sien speel.

Gee my niere aan iemand wie se lewe week tot week van 'n masjien afhanklik is.  Neem my beendere, elke spier, elke vesel en senuwee en vind uit hoe om 'n kreupel kind weer te laat loop.

Ondersoek elke hoekie van my brein.  Neem my selle as dit moet en laat hulle groei sodat 'n stom seun eendag sal uitroep wanneer die bal teen die kolf klap en 'n dowe dogtertjie die geluid van reen teen haar venster kan hoor.

Verbrand die res van my en strooi die as in die wind sodat dit blomme kan help groei.  As jy iets moet begrawe, laat dit my foute, my swakhede en alle vooroordeel teenoor my medemens wees.

Gee my sondes aan die duiwel, gee my siel aan God.  As jy my wil gedenk, doen dit met 'n goeie daad of 'n sagte woord teenoor iemand wat jou nodig het.  As jy alles sou doen waarvoor ek gevra het, sal ek vir ewig lewe.

Mooi bly

ESTELLE